Voordat ek my blog begin het, het ek by Steve se blog uitgehang. Vinnig het ek vriendinne bymekaar gemaak.Die eerstes was Zee en Krissie, meeste van julle ken Krissie as KKeet. Krissie was baie siek. Maar wat ‘n wonderlike mens. Die van julle wat haar geken het sal weet, sy was die dierbaarheid vanself. Sy het Steve bv. altyd moed ingepraat, terwyl sy met dieselfde dinge geworstel het. Sy het my baie laat lag, sy het hope humor in haar rond gedra. Ek was lief vir hierdie mens.Sy was so positief al was sy so ernstig siek. Hier gee ek net 1 so bewys, sodat julle ook kan sien hoe wonderlik was sy. (Sy sou nie omgegee het nie) Dus dodelik siek maar sy maak tyd om vir my nag te sê.Liewe MGisteraand het ek koue koors gehad… En deur die nag al my dik klere weer uitgetrek. Vandag kry ek weer te warm, maar ek het myself gedwing om hier te kom en vir jou te skrywe…Jy moet lekker doeks want more is ek weer op en wakker!LiefdetjiesKrisSy was vir ‘n operasie en die wond het nie mooi gesond geword nie. Ons het mekaar daagliks gebel en/of ge-epos, want ek was bekommerd oor haar. (O ja dit was ook my werk om elke dag Steve se inskrywing vir haar deur te stuur in die hospitaal) Die wond het septies geword en sy is weer terug dokter toe, en daar is besluit sy moet weer geopereer word. Die aand voor die operasie lui my telefoon half twaalf. Ek spring deur die slaap op, dis dood sê ek vir Teddie. Ek antwoord die telefoon, wa-wyd wakker geskrik. Dis Krissie.Hi M, jammer ek bel so laat, ek het nie geweet wie anders om te bel nie.Nee man geen probleem, is daar fout?Ek is baie bang, iets voel nie reg nie. Die keer is ek regtig bang.Nee man… moenie worry nie, alles gaan reg uitdraai, een van die dae is jy mooi gesond en gaan ons weer lekker kuier!!!Ons het nog lank gesels, want ek wou haar kalmeer en in die bed probeer kry, sy was nie baie lief vir die kamer nie, sy wou rook!!!Dit was die laaste keer wat Krissie met my gesels het………….....